Radioteater

EINDFLUITJIE deur Albert Short

Radioteater

Show Notes

Waar was jy tydens die 1995 Rugby Wêreldbeker-eindstryd? Onthou jy nog Stransky se skepskop? Regisseur Johan Rademan was saam met Heinrich Marnitz 30 jaar gelede in die kommentaarspan, en al die aksie en drama word verweef in Albert Short se radioteater, EINDFLUITJIE. ‘n Seun wie se droom om eendag die groen-en-goud te dra, het nie kaartjies vir die eindstryd nie, maar beland langs die Ellispark-rugbystadion waar hy wonderwerke beleef en ‘n liefde ontdek in ondernemende geselskap. Die drie skoliere word vertolk deur Stefan Vermaak, Jane de Wet en Eloff Snyman. Wilhelm van der Walt, Roeline Daneel en Deon Lotz verteenwoordig die ouer garde. In hierdie drama, onder regie van Johan Rademan, beleef jy saam die 15-12 Springbok-oorwinning oor die All Blacks, en al die skoppe, waarvan drie skepskoppe.

More from Radioteater

Oct 22, 2026

Wat gebeur wanneer ’n terugkeer huis toe jou weer met die verlede konfronteer? Ná sy broer se dood, keer Louw terug na die kleinhoewe van sy kinderjare, waar hy met sy pa Gert herenig word. Ou wonde word oopgekrap soos hulle die waarheid probeer vermy deur mekaar te toets, te blameer en te beledig. Maar die waarheid bruis binne ‘n enorme witstinkhoutboom, ‘n dekadeslange getuie van alles wat op dié lappie familiegrond gebeur het. Dit is ‘n storie oor ‘n pa en seun wat sukkel om mekaar te vind terwyl hulle rekenskap probeer neem van hulle verlede. Die regisseur is Joanie Combrink. Die rolverdeling sluit in Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock. STINKHOUT is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Dit was Cruywagen se laaste verwerking vir RSG, en die produksie word aan hom opgedra.

Oct 15, 2026

Herman is in sy skik dat sy dogter met Pieter wil trou. Sy vrou twyfel egter oor Pieter se herkoms. Wanneer sy met foto’s van meisies uit Herman se jong dae te voorskyn kom, moet hy vinnig verduidelik dat al daardie romantiese afsprake op fiasko’s uitgeloop het. Die regisseur is Thomas van Niekerk, en die rolverdeling sluit in Dirk Stolz, Esther van Waltsleben, Mila Guy, Chloe van Rooyen, Ane Fourie, Estelle Grobler en De Klerk Oelofse.

Oct 8, 2026

'n Tweeling broer en suster van Mosselbaai word ná jare herenig om hulle ma se sewentigste verjaardag te vier. Saam word die Van Rensburgs gekonfronteer deur nuwe familie-uitdagings soos progressiewe Alzheimer se siekte, ou verwyte wat weer kop uitsteek en onverwerkte verlies wat hulle dwing om moeilike waarhede in die oë te kyk. Die verhaal is 'n herontdekking van die krag van vergifnis en aanvaarding, en wat dit beteken om mekaar regtig nodig te hê. Die regisseur is Amor Tredoux. Die rolverdeling sluit in Jacques Bessenger, Karli Heine, Johan Nel, Joanie Combrink en Zenobia Kloppers. TUIMELDUIF is ‘n merietepryswenner van die 2025-Radiodramaskryfkompetisie.

Oct 1, 2026

Vir die radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg. ’n Ma word, gekonfronteer met die verdwyning van haar elfjarige seun tydens ‘n hofsaak wat in die kollektiewe gewete aangehoor word. In hierdie vreemde hofsaal van openbare mening en oordeel is daar ’n groep kinders wat soos ’n spookagtige koor uit ’n tussenwêreld die verrigtinge bywoon. Joshlin se opspraakwekkende verhaal dreig egter om die verrigtinge te ontspoor, want almal wil steeds weet wat van Joshlin geword het. Die regisseur is Johan Rademan. Die stemme van Zenobia Kloppers, Kay Smith, Miche van Wyk, Dean Balie en Denver Vraagom kan gehoor word. Nuwe stemme uit die Proscenium dramakompetisie-stal is Adri-Jo Waterboer, Leighmen Marshall, Chriswell Kotze, Bronwynne, Neer en Bronwyn Damon.

Jun 25, 2026

Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is. Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is, en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar. Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit. Leon van Nierop het die regie behartig.

See all episodes →