Radioteater

KEN JY VIR FYTJIE ELAND? deur Eben Cruywagen

Radioteater

Show Notes

Dit is die jaar 1913. Iewers tussen Griekwastad en Campbell boer Johannes Eland en sy broerse met skaap en bees. Sy vrou, Katrina, is ’n nasaat van die groot Adam Kok I. Hulle sestienjarige dogter, Fytjie, is verlief op Tariq Mentoor, ’n man van minstens tien jaar haar senior, wat vir ’n diamantdelwer aan die oewer van die Garieprivier in die omgewing van Douglas werk. Wanneer Johannes haar verbied om enige kontak met die man te hê, verdwyn sy skielik een nag. Sonder geld, maar met die vaste geloof dat hulle Fytjie sal opspoor, lei hulle soektog te voet na Douglas en vandaar na Kimberley met die hulp van ’n transportryer. Vandaar ry hulle (onwettig) per goederetrein na Kaapstad, waar Jamila Allie hulle in die Bo-Kaap werk en huisvesting bied. Ná tien jaar en ’n vrugtelose soek na Fytjie, sterf Jamila in Desember 1923 aan maagkanker, en word Johannes en Katrina op grond van Jamila se getuigskrif onderskeidelik as tuinier en kok aangestel in diens van senator Christiaan Brand en sy vrou, Francina, ’n maatskaplike werkster. Sestien maande later op 8 Mei 1925 kan Christiaan Brand die oorwinning vir Afrikaans as amptelike taal met dankbaarheid en trots deel met Johannes Eland, met wie hy ’n noue band oor die verloop van daardie tydperk ontwikkel het. Maar wanneer sou Johannes en Katrina dan kon ophou om die Kaapse strate te deurkruis en feitlik elke mens, vol hoop en geloof die vraag te vra: Ken jy vir Fytjie Eland? Die rolverdeling sluit in Johny Klein, Eloise Cupido, Claudia Jones, Solomon Cupido, Shemane Harris, Allan Dyssel en Marintha Labuschagne. Gavin Mathys het die aksentafrigting behartig. Die regisseur is Lelia Etsebeth.

More from Radioteater

Oct 22, 2026

Wat gebeur wanneer ’n terugkeer huis toe jou weer met die verlede konfronteer? Ná sy broer se dood, keer Louw terug na die kleinhoewe van sy kinderjare, waar hy met sy pa Gert herenig word. Ou wonde word oopgekrap soos hulle die waarheid probeer vermy deur mekaar te toets, te blameer en te beledig. Maar die waarheid bruis binne ‘n enorme witstinkhoutboom, ‘n dekadeslange getuie van alles wat op dié lappie familiegrond gebeur het. Dit is ‘n storie oor ‘n pa en seun wat sukkel om mekaar te vind terwyl hulle rekenskap probeer neem van hulle verlede. Die regisseur is Joanie Combrink. Die rolverdeling sluit in Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock. STINKHOUT is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Dit was Cruywagen se laaste verwerking vir RSG, en die produksie word aan hom opgedra.

Oct 15, 2026

Herman is in sy skik dat sy dogter met Pieter wil trou. Sy vrou twyfel egter oor Pieter se herkoms. Wanneer sy met foto’s van meisies uit Herman se jong dae te voorskyn kom, moet hy vinnig verduidelik dat al daardie romantiese afsprake op fiasko’s uitgeloop het. Die regisseur is Thomas van Niekerk, en die rolverdeling sluit in Dirk Stolz, Esther van Waltsleben, Mila Guy, Chloe van Rooyen, Ane Fourie, Estelle Grobler en De Klerk Oelofse.

Oct 8, 2026

'n Tweeling broer en suster van Mosselbaai word ná jare herenig om hulle ma se sewentigste verjaardag te vier. Saam word die Van Rensburgs gekonfronteer deur nuwe familie-uitdagings soos progressiewe Alzheimer se siekte, ou verwyte wat weer kop uitsteek en onverwerkte verlies wat hulle dwing om moeilike waarhede in die oë te kyk. Die verhaal is 'n herontdekking van die krag van vergifnis en aanvaarding, en wat dit beteken om mekaar regtig nodig te hê. Die regisseur is Amor Tredoux. Die rolverdeling sluit in Jacques Bessenger, Karli Heine, Johan Nel, Joanie Combrink en Zenobia Kloppers. TUIMELDUIF is ‘n merietepryswenner van die 2025-Radiodramaskryfkompetisie.

Oct 1, 2026

Vir die radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg. ’n Ma word, gekonfronteer met die verdwyning van haar elfjarige seun tydens ‘n hofsaak wat in die kollektiewe gewete aangehoor word. In hierdie vreemde hofsaal van openbare mening en oordeel is daar ’n groep kinders wat soos ’n spookagtige koor uit ’n tussenwêreld die verrigtinge bywoon. Joshlin se opspraakwekkende verhaal dreig egter om die verrigtinge te ontspoor, want almal wil steeds weet wat van Joshlin geword het. Die regisseur is Johan Rademan. Die stemme van Zenobia Kloppers, Kay Smith, Miche van Wyk, Dean Balie en Denver Vraagom kan gehoor word. Nuwe stemme uit die Proscenium dramakompetisie-stal is Adri-Jo Waterboer, Leighmen Marshall, Chriswell Kotze, Bronwynne, Neer en Bronwyn Damon.

Jun 25, 2026

Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is. Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is, en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar. Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit. Leon van Nierop het die regie behartig.

See all episodes →