Radioteater

DIE DAMHUIS deur Reinet en Dirk Nagtegaal

Radioteater

Show Notes

Wat deesdae die Damhuis-restaurant op Melkbosstrand aan die Weskus is, was nagenoeg 240 jaar gelede deel van die plaasopstal van ene kaptein Christiaan Brand. Toe die kaptein, sy vrou Gesina, en twee slawe, Kassien April en ’n jong vrou genaamd Mali, n die laat 1700’s daar aangekom het, was daar niks. Net melkbosse. Hulle het jare lank aan ’n woonhuis en ’n visskuur gebou waarin die Brands soutvis gedroog het – net soos wat daar vandag nog aan die Weskus bokkoms gemaak word. Die verhaal strek oor etlike dekades – van Christiaan en Gesina se troudag, tot ver verby hulle afsterwe. Dit speel af teen die agtergrond van ’n baie verwarrende era in die geskiedenis, toe die Kaap binne ’n kwessie van tien jaar eers onder Nederlandse, toe Britse, toe Bataafse en toe wéér Britse bewind was. Hierdie politieke skommelinge, onsekerhede oor grondbesit en die moontlike bedreiging van ’n oorlog waarna Christiaan as oud-offisier dalk weer opgeroep kan word, sorg vir ’n spannende storielyn. Dit vertel ook hoe die hegste familiebande soms niks met bloed te make het nie. In die twee vroulike hoofrolle is Erica Wessels en Lee-Ann van Rooi. Die ander spelers isn André Terblanché, David Isaacs, Èmil Haarhoff, Nienke Geldenhuys en Albert Smit. Vir die radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg. Die regisseur is Sophia van Taak.

More from Radioteater

Oct 22, 2026

Wat gebeur wanneer ’n terugkeer huis toe jou weer met die verlede konfronteer? Ná sy broer se dood, keer Louw terug na die kleinhoewe van sy kinderjare, waar hy met sy pa Gert herenig word. Ou wonde word oopgekrap soos hulle die waarheid probeer vermy deur mekaar te toets, te blameer en te beledig. Maar die waarheid bruis binne ‘n enorme witstinkhoutboom, ‘n dekadeslange getuie van alles wat op dié lappie familiegrond gebeur het. Dit is ‘n storie oor ‘n pa en seun wat sukkel om mekaar te vind terwyl hulle bestek opneem van hulle verlede. Die regisseur is Joanie Combrink. Die rolverdeling sluit in Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock. STINKHOUT is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Dit was Cruywagen se laaste verwerking vir RSG, en die produksie word aan hom opgedra.

Oct 15, 2026

Herman is in sy skik dat sy dogter met Pieter wil trou. Sy vrou twyfel egter oor Pieter se herkoms. Wanneer sy met foto’s van meisies uit Herman se jong dae te voorskyn kom, moet hy vinnig verduidelik dat al daardie romantiese afsprake op fiasko’s uitgeloop het. Die regisseur is Thomas van Niekerk, en die rolverdeling sluit in Dirk Stolz, Esther van Waltsleben, Mila Guy, Chloe van Rooyen, Ane Fourie, Estelle Grobler en De Klerk Oelofse.

Oct 8, 2026

'n Tweeling broer en suster van Mosselbaai word ná jare herenig om hulle ma se sewentigste verjaardag te vier. Saam word die Van Rensburgs gekonfronteer deur nuwe familie-uitdagings soos progressiewe Alzheimer se siekte, ou verwyte wat weer kop uitsteek en onverwerkte verlies wat hulle dwing om moeilike waarhede in die oë te kyk. Die verhaal is 'n herontdekking van die krag van vergifnis en aanvaarding, en wat dit beteken om mekaar regtig nodig te hê. Die regisseur is Amor Tredoux. Die rolverdeling sluit in Jacques Bessenger, Karli Heine, Johan Nel, Joanie Combrink en Zenobia Kloppers. TUIMELDUIF is ‘n merietepryswenner van die 2025-Radiodramaskryfkompetisie.

Oct 1, 2026

Vir die radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg. ’n Ma word, gekonfronteer met die verdwyning van haar elfjarige seun tydens ‘n hofsaak wat in die kollektiewe gewete aangehoor word. In hierdie vreemde hofsaal van openbare mening en oordeel is daar ’n groep kinders wat soos ’n spookagtige koor uit ’n tussenwêreld die verrigtinge bywoon. Joshlin se opspraakwekkende verhaal dreig egter om die verrigtinge te ontspoor, want almal wil steeds weet wat van Joshlin geword het. Die regisseur is Johan Rademan. Die stemme van Zenobia Kloppers, Kay Smith, Miche van Wyk, Dean Balie en Denver Vraagom kan gehoor word. Nuwe stemme uit die Proscenium dramakompetisie-stal is Adri-Jo Waterboer, Leighmen Marshall, Chriswell Kotze, Bronwynne, Neer en Bronwyn Damon.

Jun 25, 2026

Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is. Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is, en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar. Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit. Leon van Nierop het die regie behartig.

See all episodes →