
Show Notes
Verbeel jou jy is in 2050 waar kunsmatige intelligensie tot jou voordeel... of nadeel kan strek. Dawid le Roux is ‘n rekenaarprogrammeerder. Hy is nie te vinde vir te veel geselskap nie, en is tevrede net met Amanda. Hy word egter gekonfronteer met die kunsmatige wêreld wat hy vir homself skep. Verkies jy eerder ʼn kantoor vol mense en ’n lewensmaat, of beheerde eensaamheid? ‘n Wêreld van tegnologie het voordele, maar ook uitdagings. Die stryd tussen mens en masjien is nog lank nie verby nie. Die spelers is Deon Lotz, Sharfa du Plessis, Anrich Herbst, Denver Vraagom, Ilne Fourie, Karli Heine en June van Merch. KONNEKSIE is die wendrama van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV. Die regisseur is Johan Rademan.
More from Radioteater
Wat gebeur wanneer ’n terugkeer huis toe jou weer met die verlede konfronteer? Ná sy broer se dood, keer Louw terug na die kleinhoewe van sy kinderjare, waar hy met sy pa Gert herenig word. Ou wonde word oopgekrap soos hulle die waarheid probeer vermy deur mekaar te toets, te blameer en te beledig. Maar die waarheid bruis binne ‘n enorme witstinkhoutboom, ‘n dekadeslange getuie van alles wat op dié lappie familiegrond gebeur het. Dit is ‘n storie oor ‘n pa en seun wat sukkel om mekaar te vind terwyl hulle rekenskap probeer neem van hulle verlede. Die regisseur is Joanie Combrink. Die rolverdeling sluit in Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock. STINKHOUT is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Dit was Cruywagen se laaste verwerking vir RSG, en die produksie word aan hom opgedra.
Herman is in sy skik dat sy dogter met Pieter wil trou. Sy vrou twyfel egter oor Pieter se herkoms. Wanneer sy met foto’s van meisies uit Herman se jong dae te voorskyn kom, moet hy vinnig verduidelik dat al daardie romantiese afsprake op fiasko’s uitgeloop het. Die regisseur is Thomas van Niekerk, en die rolverdeling sluit in Dirk Stolz, Esther van Waltsleben, Mila Guy, Chloe van Rooyen, Ane Fourie, Estelle Grobler en De Klerk Oelofse.
'n Tweeling broer en suster van Mosselbaai word ná jare herenig om hulle ma se sewentigste verjaardag te vier. Saam word die Van Rensburgs gekonfronteer deur nuwe familie-uitdagings soos progressiewe Alzheimer se siekte, ou verwyte wat weer kop uitsteek en onverwerkte verlies wat hulle dwing om moeilike waarhede in die oë te kyk. Die verhaal is 'n herontdekking van die krag van vergifnis en aanvaarding, en wat dit beteken om mekaar regtig nodig te hê. Die regisseur is Amor Tredoux. Die rolverdeling sluit in Jacques Bessenger, Karli Heine, Johan Nel, Joanie Combrink en Zenobia Kloppers. TUIMELDUIF is ‘n merietepryswenner van die 2025-Radiodramaskryfkompetisie.
Vir die radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg. ’n Ma word, gekonfronteer met die verdwyning van haar elfjarige seun tydens ‘n hofsaak wat in die kollektiewe gewete aangehoor word. In hierdie vreemde hofsaal van openbare mening en oordeel is daar ’n groep kinders wat soos ’n spookagtige koor uit ’n tussenwêreld die verrigtinge bywoon. Joshlin se opspraakwekkende verhaal dreig egter om die verrigtinge te ontspoor, want almal wil steeds weet wat van Joshlin geword het. Die regisseur is Johan Rademan. Die stemme van Zenobia Kloppers, Kay Smith, Miche van Wyk, Dean Balie en Denver Vraagom kan gehoor word. Nuwe stemme uit die Proscenium dramakompetisie-stal is Adri-Jo Waterboer, Leighmen Marshall, Chriswell Kotze, Bronwynne, Neer en Bronwyn Damon.
Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is. Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is, en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar. Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit. Leon van Nierop het die regie behartig.